SELFDOEN: Versier kerse en kershouers met fotos

Ons maak kerse mooi met fotos

Kerse met waspapierfoto’s

Hierdie maklike metode lewer ’n professionele resultaat wat die indruk skep dat die foto regstreeks op die kers gedruk is. Eerstens moet jy jou sneuspapier voorberei vir jou drukker.

Ongelukkig is sneespapier te dun om deur ’n drukker te voer. Daar is egter ’n maklike manier om dit te oorkom. Plaas ’n vel gewone A4-kopieerpapier op die blink kant van die sneespapier. Kyk of die drukker wat jy gebruik die papier regop of dwars deurvoer – dit sal bepaal waar jy jou sneespapier om die kopieerpapier vou. Sny jou sneespapier volgens die grootte van jou A4-kopieerpapier, maar laat 1 cm ekstra aan die bo- en onderkant toe as die drukker die papier regop deurvoer, of 1 cm ekstra aan weerskante as die papier dwars deurgevoer word. Vou nou die sneespapier se 1 cm-rande om die kopieerpapier en plak dit met kleefband vas.

Vir die kerse benodig jy:

-          Velle voorbereide sneespapier

-          Inkstraaldrukker

-          Skêr

-          Wit of pastelkleurige kerse

-          Waspapier

-          Verhittingapparaat (bv. ’n kragtige haardroër)

Gaan só te werk:

1. Plaas jou voorbereide papier in die drukker, en maak seker dat die regte kant bo is sodat die drukwerk op die sneespapier gedoen word. Druk nou jou foto’s, en hou dit dop om seker te maak dat die papier behoorlik deur die drukker gevoer word.

2. Laat dit heeltemal droog word en knip dan die oortollige rande af; laat ’n randjie van sowat 2 mm rondom elke foto.

3. Plaas die sneespapierafdruk op die kers en bedek dit met ’n stuk waspapier wat groot genoeg is om reg rondom die kers te gaan. Tel die kers op deur aan die twee rande van die waspapier aan die agterkant van die kers vas te hou.

4. Hou die haardroër se punt sowat 2 cm van die kers af en blaas die hitte oral oor die sneespapierafdruk. Die was sal begin smelt en in die sneespapier invloei.

5. Trek die waspapier versigtig af voordat dit heeltemal afkoel.

Blink plan: Rond jou foto’s met dekoratiewe plakboekrame af voordat jy dit skandeer of fotokopieer, en knip dit dan rondom die dekoratiewe rand uit.

 

Vinnige, maklike kershouers

Maak hierdie maklike kershouers om by ’n tema of kleurskema te pas. Agterna word die kleefband eenvoudig afgetrek en is die glase weer so goed soos nuut.

Jy benodig:

-          Laserafdrukke

-          Deursigtige 48 mm-verpakkingskleefband

-          Afvryfapparaat

-          Handwerkmes en liniaal

-          Bak met water

-          Verskillende groottes glase of flesse met regop kante

-          Washi-kleefband

Gaan só te werk:

1. Maak jou laserafdrukke op A4-velle gewone kopieerpapier.

2. Plak stroke verpakkingskleefband oor die bokant van die laserafdruk. Vryf die kleefband met jou hand plat, draai die papier om en gebruik jou afvryfapparaat om hard oor die agterkant van die papier te vryf.

3. Draai weer die papier om sodat die beeld na bo wys. Gebruik jou handwerkmes en liniaal om die oortollige rande van die papier en kleefband af te sny.

4. Dompel ’n paar stroke op ’n slag in ’n bak water en laat hulle week.

5. Wanneer die papier deurnat is, begin jy dit vryf om die rugkant te verwyder. Hou aan totdat daar geen papier oor is nie.

6. Plaas die nat stroke kleefband onderstebo (met die blink kant onder) op ’n plat oppervlak en laat droog word.

7. Nadat hulle droog geword het, behoort die stroke nog taai genoeg te wees om aan die glas te kleef; indien nie, kan jy eenvoudig Podge gebruik. Plak jou beelde op die glas vas en sny hulle korter, indien nodig.

8. Rond die rande met washi-kleefband af.

Blink plan: Maak ’n hang-lantern deur draad om die rand van die glasfles vas te maak en dit daaraan op te hang.

Probeer ook: SELFDOEN: Fotomooi koekblikke!

Kyk dié insetsel weer:


Lees Ook: