Pasella se eie verkleurmannetjie

10 Desember 2018

Barend en Sean-Marco

Pasella se eie verkleurmannetjie

Hierdie week op Pasella kuier Sean-Marco saam met 'n inspirerende parapleeg-fietsryer. Paul verf Johannesburg rooi saam met 'n graffiti-kunstenaar en Viljé boer saam met Chris Chameleon op Verkykerskop.

Barend Coetzee was 17 jaar gelede, sowat ‘n week nadat hy die Comrades maraton gehardloop het, in ‘n ongeluk wat hom verlam gelos het.

Tou opgooi is egter nie in Barend se woordeskat nie en die ongeluk het nie Barend se spoed gebreek nie. Net drie maande nadat Barend uit die hospitaal ontslaan is, het hy vir hom ‘n aangepaste fiets gekoop en begin oefen vir sy volgende wedren.

Hy ry tans daagliks tussen 60 tot 80 kilometer ter voorbereiding van fiets-resies oral oor die land. Barend se ouers ondersteun hom 100% in sy sport en reis saam met hom oral waar hy deelneem.

Barend is ‘n lektor by ‘n plaaslike kollege in Kathu in die Noord-Kaap en is ‘n groot inspirasie vir sy studente, kollegas en die wyer gemeenskap.

Graffiti kuns

Die graffiti-kunstenaars, Page en Zesta, doen graffiti vir ‘n lewe en het al vir groot plaaslike handelsmerke asook oorsee aan mure kleur gegee.

Page was in die Pro Arte kunsskool in Pretoria, waarna sy mode-ontwerp studeer het. Sy het haar man en besigheidsvennoot, Zesta, in ‘n kunsgallery ontmoet, waar sy op daardie stadium gewerk het. Hy het haar aan graffiti-kuns voorgestel en sedertdien verf dié gedugte span die wêreld rooi met hulle spuit-kannetjie-kuns. Hulle het al alles van gimnasiums, lughawe-wagkamers, rekenaarlokale en kantore met hulle kuns verfraai. 

Chris Chameleon

Die sanger, Chris Chameleon, is oorspronklik van Johannesburg. Hy het egter nog altyd ‘n sagte plek vir die platteland gehad en bly reeds vir die afgelope 12 jaar op ‘n plaas buite Verkykerskop in die Vrystaat. Hy geniet veral die stilte en die gevoel van vryheid wat die dorpie en die omliggende omgewing bied.

Hy vier tans sowat 27 jaar in die vermaaklikheidsbedryf, nadat hy reeds op skool ‘n nasionale toneelkompetisie gewen en kort daarna as akteur begin werk het. Hy is veral naam gemaak as die hoofsanger van die groep BOO, wat wêreldwyd gewild is, met meer as  800 vertonings in 17 lande tot op hede.

Sedert 2004 het hy sy fokus met groot sukses ook na Afrikaanse musiek verskuif. In 2005 het hy Ingrid Jonker se gedigte met groot sukses getoonset op die album, ‘Ek herhaal jou’. Hy het na sy verskyning op die sepie-stel in 7de Laan ook die album, ‘7de Hemel’ vrygestel.

Hy en sy geliefde, Daniella Deysel, ‘n digter en sangeres, span ook hulle kragte saam in die musiekbedryf. Op die album, ‘Posduif’ het die twee tortelduifies in 2014 Daniella se gedigte getoonset. Hulle neem tans saam musiek op onder die naam ‘Kat en Wolf’.  Hulle nuutste werk kan op die album ‘Jy en ek en ek en jy’ gevind word, wat tans op die rakke is.

Bedankings:

Riverside Castle
Webwerf: http://riversidecastle.co.za/
Kontak: 012 809 2676

VKB Landbou
Webwerf: http://www.vkb.co.za/index.php/en/
Kontak: 087 358 8111


Lees Ook: