Bou jou eie skoppelmaai

langwerpige swaai

Swaai 1 – Langwerpige swaai

Jy benodig 'n langwerpige stuk dennehout so lank as soos jy wil. Saag twee kleiner blokkies van dieselfde breedte om die punte mee te versterk. Plak die twee blokkies met koue lym aan die onderkant van die plank vas. Boor vier loodsgaatjies vir die vlekvrye staalskroewe om die twee ekstra blokkies mee te heg. Nou vir 2 gaatjies vir die tou: meet presies die middel van die plank aan weerskante en boor twee loodsgaatjies.

Gebruik nou 'n gatsaag om die twee loodsgaatjies groter te saag en ryg dan die tou deur. Gebruik tou met 'n drakrag van ten minste 120 kilogram. Om op te hang, skroef ‘n oogbout en u-vormige bout in die raam waaraan die nylontou vasgemaak word.

Swaai 2 – Sirkelswaai

Trek die groterige ronde vorm op 'n stuk hout af – gebruik sommer 'n koekblik hiervoor. Boor 'n loodsgaatjie reg langs die sirkel en neem dan jou gatsaag om die gat groter te boor. So kry jy 'n plek om die sirkel te begin uitsaag met jou figuursaag. Werk stadig en kry iemand om jou te help vashou – so kan jy effektief met 'n figuursaag werk. Kry nou die middelpunt van die figuur en boor 'n gat in die middel waar die tou deurgeryg word.

Skuur die swaai ordentlik af en wit-was dan met een laag verf. Dit neem ongeveer 15 minute om droog te word. Gebruik 'n stewige dik tou en maak 'n dubbelknoop aan die onderkant van die sirkel om seker te maak die tou kom nie los nie.

Om dit op te hang, word die verste punt van die tou oor die raamwerk gegooi en dan word die los punt aan die res van die tou vasgemaak met ‘n metaalklamp.

Swaai 3 – Buitebandswaai

Die swaai word verkieslik in 'n boom gehang – maak jou hangtou vooraf stewig vas. Merk 3 plekke op die binneband se boonste rand en boor dan gate vir die oogboute. Sit 'n groot wasser aan die binnekant van die band sodat die boute nie uitskeur nie. Boor ook 3 gate aan die onderkant van die band sodat reënwater maklik kan uitloop en nie binne-in opdam nie. Die gate kan tussen 8 en 12 millimeter wees en word met ‘n houtboorpunt gemaak.

Dan word 3 kettings van ongeveer 1 meter elk met ‘n oogbout en u-vormige bout vasgemaak. Bring die drie kettings bymekaar en knoop die nylontou wat reeds oor die boomtak hang, met ‘n dubbelknoop vas. As jy nie 'n groot boom het, kan die ingangsboog van ‘n stoep ook as ophangplek dien.

langwerpige een
figuursaag
verflaag
buitebandswaai
u-bout
swaai ophang
   

Lees Ook: