31 Augustus 2011: Vuurpot

Keramiekpotjie vir vuurpot Daar is darem min dinge so lekker as om langs 'n knetterende vuurtjie te kuier wanneer dit koud is. Maar nie almal van ons is so gelukkig om 'n kaggel in die huis te hê nie. 'n Vuurpot is 'n gesellige én veilige alternatief waarvan daar hope variasies beskikbaar is. Marlize wys haar oulike weergawe.

Jy benodig
keramiekpot
sand
klein klippies
leë tunablikkie
kookjellie

Die kookjellie is gewoonlik te kry by die braai-afdeling in die winkels, aangesien baie mense dit gebruik om hul vure aan die gang te kry. Begin deur die pot so driekwart vol sand te maak. Die sand sorg dat die pot lekker vas staan en dien ook as isolasie teen die hitte wanneer die blikkie met jellie begin warm word.

Sodra daar genoeg sand in die pot is, kan jy die blikkie in die middel sit en die sand stewig aan die kante vasdruk. Pak dan die klippies al om die kant van die bakkie, maar maak seker dat die opening van die blikkie heeltemal oop is. Die klippies is bloot dekoratief en dien nie 'n doel nie.

Gooi van die jellie in die blikkie en steek dit aan die brand. Die vlammetjie brand blou en is nie baie duidelik sigbaar nie, so pasop om jouself nie te brand nie. As jy die vlam geel wil laat brand kan jy net 'n klein stukkie organiese materiaal soos 'n droë blaartjie daarop gooi.

Die jellie brand skoon, dus gee dit geen skadelike gasse af nie en is dus veilig om binne- of buitenshuis te gebruik. Die hoeveelheid jellie wat in die tunablikkie pas brand vir so ongeveer ¾ uur, waarna jy dit net weer kan opvul. Maak egter eers seker dat die vlam heeltemal geblus is voor jy dit doen. Sit 'n deksel of een of ander hittebestande voorwerp op die pot om die vlam te smoor voor jy nog jellie bygooi.

Marlize Lotz
marlize@modehani.co.za
Vuurpot benodigdhede
keramiekpotjie met sand en blikkie
Wit klippies om blikkie in keramiekpotjie
Vuurjellie in keramiekpotjie
Marlize Lotz by vuurpotjie
   

Lees Ook: