22 Junie 2011: Geroesde Vase

Verf die glaspotjie met donkerbruin verf na die lagie sand Meeste van ons het 'n paar ou vase of glaslanterns in die kas wat nie meer gebruik word nie, maar wat ons ook nie wil weggooi nie. Met 'n bietjie gom, sand en verf kan jy jou ou vase 'n roes-effek gee wat hulle sommer vinnig splinternuut sal laat lyk.

Jy benodig:
ou vaas
houtgom
kwaste
sand
2 skakerings van bruin PVA-verf

Maak altyd seker dat die vaas of houer goed skoon gewas en droog is. Verf dan die hele buitekant van die houer met gom en sprinkel sand bo-oor. Sit dit eenkant om heeltemal droog te word.

Sodra die gom droog is, kan jy die vaas met die donkerder bruin kleur verf. Verf die kleur liggies aan sodat jy nie weer al die sand afvee nie en sit dit weer eenkant om droog te word.

PVA-verf vat gewoonlik nie so lank om droog te word nie, maar as jy ongeduldig is, kan jy dit ook aanhelp met 'n haardroër.

Wend nou die ligter bruin kleur verf saggies met 'n skoon kwas aan om die geroeste effek te skep.

Om die kleur reg te kry, kan jy 'n item wat met roesverf behandel is, of 'n werklike geroesde item na die hardewarewinkel neem wanneer jy jou verf laat meng. 'n Donkerder sjokoladebruinkleur en 'n karamelbruinkleur werk gewoonlik goed saam om die effek te verkry. Jy kan ook eers vra dat hulle vir jou 'n toetspotjie meng.

Jy sal ongelukkig nie weer die vaas kan was nie, aangesien jy met 'n waterbasisverf werk. Jy kan ook emaljeverf gebruik vir 'n waterdigte opsie, maar dit het altyd 'n effense glans wat nie dieselfde effek sal gee nie.

Nou kort dit net 'n blommetjie of 'n paar groen takkies daarin en jou vaas lyk splinternuut. So voor jy volgende keer daardie ou vaas sommer net in die drom gooi, probeer eers om dit te verf. Wie weet, dalk skep jy iets wat jy nog vir jare gaan gebruik.
Strooi die houtlymgeverfde potjie toe met sand
Verf die glaspotjie met donkerbruin verf na die lagie sand
Verf liggies die ligtebruin kleur aan
Geroeste vase effek
   

Lees Ook: