14 September 2011: Binnenshuiseplante

Skoonma se tong in pot Binnenshuise- of kantoorplante het 'n reputasie om moeilike karakters te wees en is nie altyd die maklikste manier van tuinmaak nie. Die plante lyk aanvanklik mooi, maar verloor mettertyd hul glans. Vandag wys Willie drie maklike en amper “gewaarborgde” plante vir binne die huis.

Sansevieria of “Skoonma se tong”
Hierdie plant se naam skrik seker menigte mense af, maar deesdae is die plant hoog mode en 'n maklike binnehuise plant om te onderhou.

Gebruik 'n moderne planthouer of pot wat nie te diep is nie – moenie bekommer as die pot nie dreineringsgaatjies het nie. Vul die helfde van die pot met klein klippies en die res met potgrond. Sansevieria het nie baie grond nodig nie, omdat dit 'n baie vlak wortelstelsel het. Die klippies dien dan as dreinering vir hierdie plant om water deur te laat. 'n Halwe liter water een keer per maand hoort genoeg vir hierdie plant te wees.

Mens kry baie verskillende tipes sansevieria's, maar Willie gebruik 'n dwergtipe, ideaal vir binne die huis. Willie rond die plant met 'n paar fyn witterige klippies af vir 'n bietjie ekstra glans.

Dracaenea of “Draakboom”
Die meeste dracaenea's is beheerste groeiers, kan met 'n lae ligintensiteit klaar kom en benodig minder water en aandag. Hulle gee gewoonlik 'n moderne en elegante voorkoms aan 'n vertrek. Plant dit in 'n pot met grootte in verhouding tot dié van die plant.

'n Nuttige wenk is om dit nie oor te plant in die pot nie, maar om dit liewers in die oorspronklike plastiek houer te hou en slegs in die nuwer, mooier pot te plaas – met 'n drupbak daaronder. Gee die plant ongeveer twee liter water per maand.

Raphis palm
Die Raphis palm is 'n stylvolle beheersde groeier. Hierdie plant se blare moet gereeld afgevee word, hoort een maal per maand voeding te kry en 'n liter water per week. Dit is ook 'n plant wat met minder lig kan klaarkom.

Jy kan ook hierdie plant in sy oorspronklike plastiekhouer hou en binne 'n mooi pot plaas – 'n drupbak is nie nodig nie.
Potgrond in mooi bak
Klippies in mooi bak
Draakboom in mooi pot
Draakboom in vertrek
Raphis palm
   

Lees Ook: