SABC Logo
 
Pasella SABC2
Whoopie Pies-Die Nuwe Kolwyntjie
Whoopie Pies-Die Nuwe Kolwyntjie »
Stuur jou resep Stuur jou resep vir ons en ons plaas dit op ons Kykersresepte.
Tuin tot Tafel
Aanbieder Blogs
Marokkaanse melktert
Marokkaanse melktert »
Stuur jou resep Gewildste resepte van die week soos deur julle gekies.
 

Charlene Lackay blogs

 
« Pasella aanbieders blogs 
Nalatenskap so soet soos Turkse lekkers
04 Julie 2012 (17:53:19)

Jare gelede het ek tussen my oorlede Oupa se besittings verbleikte swart-en-wit foto’s van Maleierkoorlede op Seinheuwel (Kaapstad) en vroue uitgevat in feestelike Eid-drag gevind. Familiefoto’s -- die genealogie daarvan te kompleks om hier te verduidelik. Toe my pa se babasus (my peetma) met ‘n Moslem-man trou, was daar kortstondige verontwaardiging, en toe niks. Dit was steeds familie. Vir my is sy die naaste wat ek kom aan ‘n ma sedert my eie weg is. 

Ná my verblyf in Europa is ek oortuig Suid-Afrikaners onderskat hoe gewoond hulle aan mekaar se andersheid is, selfs al lei dit nog tot struweling. Ek het daar eers die voorreg om in ‘n familie groot te word waar Islam tasbaar was, ten volle waardeer. My mond het oopgehang oor die agterdog jeens Moslems en regse propagande oor die “Islamitiese gevaar”. Dit het my ingewande omgekeer want ek het daarin die minagting gehoor van Saadiyah, Esa, Adam en al die ander mense vir wie ek lief was. Toe Duitsland nog huis was, kon ek nie sien hoe ek en my peetma in haar volle gewaad met dieselfde doodluitersheid ingehaak deur die strate sou kon stap nie. Waarskynlik weens al dié familieverbintenisse was dit nog altyd so dat ek, wanneer ek die oproep tot gebed hoor, ’n vlam van deernis voel omdat dit my herinner aan die mense wat my in hul harte dra. 

Vandag voel ek dieselfde vlam terwyl ek in die oë van ‘n bewoë, grysbaard te kyk. Ons sit oorkant mekaar op bruin leerbanke. Tussen ons staan die tweede boks halfleë Turkse lekkers. Oom Ali Katircioglu sit nader aan my as wat ek gedink het hy sou. Ek was voor die onderhoud onseker of hy geduld sou hê met die drama waarin opnames kan ontaard. Sy amper tagtig jaar oue mondhoeke het by ons ontmoeting geen poging tot ‘n glimlag aangewend nie en verkeerdelik die indruk van ‘n afstandige karakter gewek. 

Maar hier sit hy en vertel sy hart leeg. Hy praat met my asof ek wéét. Ek luister en voel asof ek weet, al kan ek nie ‘n woord verstaan wat hy sê nie. Rondom ons voltooi die regisseur, kameraman, klankman, bestuurder van die bouprojek ons klein sirkel. Insha’Allah -- as God wil -- is die enigste woorde wat telkens as herkenbaar uit die Turks spring. Hy vertel van sy droom om die Nizamiye Moskee en onderrigsentrum in die argitektoniese styl van die Ottomanryk te bou; sy ontmoeting met oudpresident Nelson Mandela; hoe hy in hul omhelsing die broer gevind het na wie hy so lank op soek was en die aanvaarding van die Midrand-gemeenskap.

Die sirkel leun ontroer al meer na binne soos die gesprek vorder. Oom Ali se vertelling maak die ruimte daarbinne ‘n groot, donskussing waarop jy kan rus. ‘n Paar Saterdaeoggende later rus verwondering oor sy nederige toewyding op die minder bekende staaltjies wat die gespreksruimte binne die sirkel om ‘n koffietafel vul. Cassim of Ahmed, ek kan nie onthou nie, vertel hoe hy in die beginjare op die bouperseel in ‘n karavaan gewoon het. Elke grieseltjie steen en sand is deur oom Ali self gefinansier. Die geskatte waarde beloop miljoene, maar daaroor swyg oom Ali. Wanneer die projek, insluitende die kliniek, voltooi is, gaan hy sonder kommer terug Turkye toe want, “Ek weet ek kan julle vertrou om na die plek om te sien. Suid-Afrikaners is spesiaal.” 

Ek beaam innerlik en verkrummel. Hierdie is sy nalatenskap, dink ek. Sy alles. So soet soos die Turkse lekkers in my kies. Ek poseer soos al die ander toeriste vir selfoonfoto’s saam met hom en stuur dit vir my neef: “Fahiem, die plek is meer as indrukwekkend. Ek het ‘n groot siel ontmoet. Jy moet die kinders bring. Liefde.”

*Die insetsel oor die Nizamiye Moskee word vanaand 4 Julie op Pasella uitgesaai. 


Kommentaar / vrae:

Wees die eerste om kommentaar te lewer ...

Teken in:
ePos:
Password:

Wagwoord vergeet?


OF

Registreer: Registrasie is eenmalig en u besonderhede sal te alle tye vertroulik gehou word.
Geslag:
Naam:
Van:
ePos:
Password:
Profiel Foto:  Beste grootte: 160px wyd x 120px hoog (.JPG)
Sekuriteitskode: Vul asb. die sekuriteitskode onder in:  *
Nuusbrief registrasie
Waars ons aanbieders
Pasella op Twitter Pasella op Facebook
Pasella on Instagram
 
SABC Logo
Broadcasting for Total Citizen Empowerment
About the SABC Contact Us Jobs
Advertise Disclaimer Site Map
DMMA Logo

SABC © 2011
SABC 2
Terme en voorwaardes | Privaat beleid | Kontak ons
Kopiereg © 2010 Pasella  |  Ontwerp deur  Website design and development